ZZ2 Farm Land

ZZ2 breek ‘lans’ vir Varsprodukprodusente

Soos gepubliseer deur: https://letabaherald.co.za/102526/zz2-breek-lans-vir-varsprodukprodusente/

Die irrasionele hoë tariewe wat groenteen vrugteboere aan die staatsagentskap, Prokon, moes betaal om hul produkte te laat inspekteer of gradeer, is in die appèlhof tersyde gestel.

Dit kom nadat een van Suid-Afrika se grootste produsente, ZZ2, die Tamatieprodusentevereniging (TPO) en die Noordelike Uiekomitee (NUK) die minister van landbou, bosbou en visserye en Prokon hof toe gesleep het omdat die vasstelling van dié inspeksietariewe eensydig en sonder behoorlike konsultasie gedoen is.

Die hoë hof het voor die appèlhofuitspraak ‘n aansoek verwerp op gronde dat “interne remedies” nie genoegsaam ontgin is nie. Die applikante het die saak na die appèlhof geneem wat bevind het dat die vasstelling van die tarief “onbillik, irrasioneel en dus onwettig is”.

Die saak is met koste gewen en die taksasie van die saak en die koste daarvan sal nou aan Prokon gelewer word. Volgens BJ van Zyl, direkteur van ZZ2, beteken dit dat Prokon se tarief-vasstelling soos wat dit in die staatskoerant van 6 Januarie 2017 gepubliseer is, prosedureel onbillik was.

“Omdat die Prokon-tariewe hersien en tersyde gestel is, is Prokon nie geregtig om gelde vanaf produsente te verhaal nie. Die persverklaring van Prokon dat alle tariewe wat tot en met die uitspraak van 14 Julie geldig en bindend is, is dus verkeerd,” het Van Zyl in ‘n verklaring gesê. Daarvolgens is fooie wat aan Prokon betaal is voor die uitspraak van 14 Julie ook verhaalbaar.

BJ van Zyl, ZZ2 direkteur en voorsitter van die TPO.

“Ons sal Prokon se optrede monitor en sorg dat hulle aan die heersende wetgewing voldoen,” het Van Zyl gesê. Volgens hom kan daar verwag word dat enige iemand wat fooie die afgelope drie jaar aan Prokon betaal het, nou ‘n verhaalsreg het.

“Prokon sal nou die hele proses om ’n heffing per kommoditeit te bepaal moet oordoen, waarna dit volgens PAJA wetgewing vir publieke deelname moet dien. Indien die fooie nie hieraan voldoen nie, is die kanse goed dat Prokon homself weer in die hof sal bevind.”


ZZ2 breek ‘lans’ vir Varsprodukprodusente

Copyright 2023