ZZ2 Veeboerdery pronk tydens landbouskoue

Beeste van die ZZ2 se Pinzgauer-stoet en PinZ²yl-stoet het die afgelope paar maande uitstekend presteer in kompetisies tydens drie landbouskoue.

Een van die grootste prestasies was die kroning van die Pinzgauer-bul, Heinz, in die Elite Prestasiegroeitoetsklas van Vleissentraal en SA Stamboek vir jong bulle tydens die Bloemfontein Skou. “Daar is sekere kriteria waaraan die bulle moet voldoen en vanjaar het sestien bulle van sestien verskillende rasse gekwalifiseer,” sê Paul Bester, senior algemene bestuurder van ZZ2 Veeboerdery. “Ons is baie trots dat die Pinzgauer-bul vanjaar kon wen.” Dit is die vierde keer in vyf jaar dat bulle van ZZ2 Veeboerdery met die louere kon wegstap. Verlede jaar is ‘n PinZ²yl-bul, Leroy, van die Mathomo PinZ²yl-stoet as kampioen gekroon. Leroy was vanjaar die Senior Kampioen van die PinZ²yl-raskompetisie tydens dié skou.
Ook die vroulike beeste het goed gevaar. Debra van ZZ2 Pinzgauer-stoet is as Kalf Kampioen Versie gekroon, Beatrix van die Cuppucino Pinzgauer-stoet (ook ZZ2) as Junior Kampioen Vers en Delia van ZZ2 Pinzgauers as Senior Kampioen Vroulik gekroon.

Tydens die Royal Skou in Pietermaritzburg het die span van ZZ2 weer eens hul staal gewys deur die gesogte titel, Groep van Tien, te wen. Groep van Tien is die resultaat van ‘n reeks kompetisies wat onder meer ingesluit het Beste Junior Kampioen en Beste Paar van Senior Kampioene, die goue beker (Mr Zorro) en beste vleisbul (Mr Leroy). Volgens Paul is die Royal Skou uitsonderlik omdat die kriteria verskil van ander skoue en die waardigheid en erns van die telers wat daar saamtrek.


Een van die hoogtepunte op elke jaar se kalender, is Nampo. Die skou naby Bothaville is ‘n uitstekende geleentheid om ZZ2 se onderskeie stoetbeeste bekend te stel. Die Pinzguer-bul, Mr Zorro en koei, Kerry-Lee, is aangewys as kampioenpaar.  ZZ2 Veeboerdery het die Pinzgauer en PinZ²yl Beestelersgenootskap se stalletjie op Nampo beman. Die stalletjie is ondere ander besoek deur ZZ2 se uitvoerende direkteur, mnr. Tommie van Zyl, leier van die DA, Mmusi Maimane, Mr Joel Mamobolo, Registrar of Animal en verteenwoordigers van die Botswana-regering.


ZZ2 Veeboerdery pronk tydens landbouskoue
ZZ2 Veeboerdery pronk tydens landbouskoue
ZZ2 Veeboerdery pronk tydens landbouskoue

Copyright 2023