ZZ2 se kliniekdienste word hoog aangeskryf

Op Boekenhoutbult-plaas in die Mooketsi-vallei en op Ammondale-plaas naby Polokwane is daar ‘n groepie verpleegpersoneel wat van vroegdag af woeker om na die gesondheid van ZZ2-werknemers om te sien.

Tussen twee verpleegsusters, drie assistent-verpleegsters en twee ambulansbestuurders sien die groep om na ongeveer 1200 pasiënte ‘n maand.

Die diens word as ‘n maatskaplike, gesondheids- en opvoedingsprogram (SHE) bedryf en besoekers, wat werknemers en hul familielede insluit, betaal ‘n minimale bedrag wat medikasie insluit, vertel susters Ralda van Zyl en Landi Swart.

Saam met Sarah Makamo, Donation Ndobe en Sarah Masakela (assistent-verpleegsters), is hulle ‘n gedugte span wat bontstaan om al die pasiënte te konsulteer. “Ons doen onder andere primêre gesondheidsorg, geringe ongesteldhede en beserings, voorgeboorte ondersoeke en gesinsbeplanning,” sê Ralda. ‘n Dokter konsulteer ook pasiënte een keer per week by die Boekenhoutbult-kliniek. Twee ambulanse, een vir die Mooketsi/ Tzaneen-area en een in die Polokwane-omgewing, neem pasiënte na hospitale, dokters en ander gesondheidsorgspesialiste wanneer nodig. Die ambulanse reageer ook op nood. “Amos Mojela het al teen topspoed gery om vroue in kraam betyds by die hospitaal te kry,” vertel Landi.

Die klinieke het ‘n 24-uur diens met ‘n verpleegster wat na-ure na ongesteldhede sal omsien, indien nodig. Alle nuwe personeelaanstellings gaan ook vir ‘n ondersoek voordat hul hul werk begin om seker te maak dat hul medies geskik is vir hul taak. Hulle doen ook gereelde opvolg oog-, bloeddruk en ander toetse op ZZ2 se vragmotorbestuurders wat lang afstande na varsproduktemarkte aflê.

Sowat twee jaar gelede is die kliniek ook as distribusiesentrum vir HIV-antiretrovirale medikasie geregistreer. Sedertdien het die kliniek 282 pasiënte wat maandeliks hul medikasie en ondersoeke ontvang. “Dit is baie bevredigend wanneer die pasiënte se gesondheid verbeter sodra hul hul medikasie begin. Ons doen ook PMTCT, voorkoming van HIV-oordrag van moeder na kind. ‘n Swanger vrou wat HIV-positief was se kind is onlangs HIV negatief gebore. Dit maak ons werk die moeite werd.”

Die kliniekdienste bestaan reeds dekades en is deur wyle Lettie van Zyl, een van die stigters van ZZ2, Bertie van Zyl, begin. Sy was self ‘n verpleegsuster en het die werknemers se gesondheidsorg op haar hart gedra.ZZ2 se jaarlikse begroting vir die kliniek beloop R2,7 miljoen, een van die grootste maatskaplike investerings wat die maatskappy jaarliks onderneem.

ZZ2 se kliniekdienste word hoog aangeskryf
ZZ2 se kliniekdienste word hoog aangeskryf
ZZ2 se kliniekdienste word hoog aangeskryf

Copyright 2023