Varsprodukte: Regulering kan voordele hê

Gepubliseer op landbou.com. http://landbou.com/nuus/varsprodukte-regulering-kan-voordele-he/

Deur Johan van der Merwe

Die voorneme van die Departement van Landbou om alle varsprodukte voortaan aan dieselfde regulasies onderhewig te maak as waaraan die aartappelbedryf al die afgelope 23 jaar voldoen, het baie ongunstige reaksie gelok, maar wat gaan hierdie regulering behels?

Dié standaarde gaan deur Prokon gereguleer word en die koste van die diens sal grotendeels van boere verhaal word.

Volgens mnr. Etienne Booyens, uitvoerende hoof van Prokon, betaal aartappelboere tans minder as een sent per kilogram vir dié inspeksiediens. “Die kans is goed dat hierdie koste sal styg, omdat die koste tans gesubsidieer word deur ander inkomste wat Prokon verdien. Dit is egter onwaarskynlik dat hierdie koste met meer as 30% sal toeneem.”

Koste van inspeksie
Die koste van inspeksie van ander produkte vanaf 17 November word tans nog deur Prokon vasgestel en Booyens hoop dat hierdie koste teen einde September gepubliseer kan word. “Ons gaan poog om die kostestruktuur en die betalingsmeganisme so eenvoudig as moontlik te maak.”

Mnr. Deon van Zyl, besturende direkteur van RSA Markagente, sê hy “verwelkom die besluit, maar daar is natuurlik altyd voorwaardes. Vir die suksesvolle implementering moet die proses deursigtig wees, konsekwent tussen die verskillende markte en verskillende agente wees. Dus moet produkte wat by Tshwane afgradeer word, onder dieselfde inspeksiestandaard beoordeel word in Johannesburg. Die hele stelsel sal inmekaar val indien produkte van dieselfde boer afgradeer word by bv. RSA, maar nie afgradeer word by Botha Roodt nie.”

Moet daagliks geskied
“Verder is dit noodsaaklik dat die proses op daaglikse basis geskied sodat vertroue geskep kan word by die produsent, koper en verbruiker.”

Van Zyl sê hy meen regulering gaan ‘n gunstige uitwerking op die prys hê. Produsente met handelsmerk-trots sal die voordeel van die stelsel kan ontgin, deurdat kopers bereid sal wees om ‘n premie te betaal vir produkte wat voldoen aan graderings- en verpakkingsvereistes. Produsente wat gradering en verpakking afskeep, sal gepenaliseer word, en dus gedwing word om te voldoen aan die regulasies ten einde ‘n markverwante prys te behaal.

* ʼn Volledige artikel oor die onderwerp volg in Landbouweekblad van 2 September.

Varsprodukte: Regulering kan voordele hê
Varsprodukte: Regulering kan voordele hê
Varsprodukte: Regulering kan voordele hê

Copyright 2023