Tamatiereus ZZ2 staan by Bultfontein in hierdie droogtetyd

Gepubliseer deur Senwes op 6 Julie  http://www.senwes.co.za/af-ZA/Artikels/View/tamatiereus-zz2-staan-by-bultfontein-in-hierdie-droogtetyd#sthash.L9I6ZxR2

ZZ2 en Senwes staan saam op vir die produsente in nood. Die twee maatskappye in vennootskap het steun aan die Bultfontein produsente verskaf. ZZ2 het hulle betrokkenheid by die Agri SA droogterampfonds van einde Mei tot in Junie benadruk toe hulle die vervoer van veevoere gratis na die droogtegeteisterde areas verskaf het.

Francois Strydom, Groep Uitvoerende Hoof van Senwes, spreek sy dank uit teenoor ZZ2 wat gedurende die tyd ‘n totaal van 11 vragte bale na die Bultfontein se produsente vervoer het. “Dit is verblydend om te sien hoe Suid-Afrikaners in hierdie moeilike tyd hande vat om mede-landsburgers, wat baie erg geraak is deur die grootste droogte in ‘n honderd jaar, te help” aldus Strydom.

Dit behels 572 bale wat vanaf die Odendaalsrus/Kroonstad omgewing na Bultfontein vervoer is. Dit volg op ʼn verdere 6 vragte wat in Mei gelewer is, waar ZZ2 die vervoer ook gratis vanaf Thabazimbi na Noord Wes verskaf het. Vervoerbestuurder by ZZ2, Japie Burger, vertel dat hulle by die projek aangesluit het nadat Senwes hulle genader het om by Agri SA se Droogterampfonds betrokke te raak.

Burger sê dat hulle uitgangspunt is dat dit op die oomblik goed met hulle gaan en dit basies hulle voorreg is om mense in nood by te staan. “Hierdie vervoer van die bale is maar net ons klein bydrae vir die boere in hierdie droogtegeteisterde gebied.”

Herman Meiring, Voorsitter van die Bultfontein Distrikslandbou, vertel dat hierdie vennootskappe al tydens NAMPO Oesdag deur Senwes en Tommie van Zyl van ZZ2 gesluit was. Meiring het sy dank teenoor Tommie, Japie en die drywer John uitgespreek: “Hierdie skenking beteken baie vir ons. Ons sal dit nooit in waarde kan omsit nie. Ons sien raak wat hulle vir ons doen.”

Hierdie ooreenkoms het produsente in staat gestel om voer elders aan te koop terwyl ZZ2 die vervoer verskaf het. Julius Hellmuth, een van die produsente wat hierby gebaat het, het so op ZZ2 se gebaar gereageer: “ZZ2 moet regtig weet dat hulle ‘n verskil in ons lewens gemaak het. Dit was die inspuiting wat almal in die gebied nodig gehad het. Dit wys jou die mense gee om en dat jy die pad verseker nie alleen stap nie.”

Senwes het al in 2015 die Agri SA Droogterampfonds op die been gebring en het daarna ook R1 miljoen tot die fonds bygedra en was gedurende die afgelope tyd op nog vele wyses betrokke. Die vennootskap met ZZ2 bewys dat Senwes steeds alles in hulle vermoë doen om voortdurend tot die verligting van nood by te dra. Meiring het laastens aangevoer dat produsente nog voer na die gebied wil bring en doen ‘n beroep op instansies om by Senwes en ZZ2 aan te sluit.

Tamatiereus ZZ2 staan by Bultfontein in hierdie droogtetyd
Tamatiereus ZZ2 staan by Bultfontein in hierdie droogtetyd
Tamatiereus ZZ2 staan by Bultfontein in hierdie droogtetyd

Copyright 2023