Onder vier oë met Tommie van Zyl, nuwe PMA vise-president

Artikel geskryf deur Jan Greyling en gepubliseer in SA Groente & Vrugte/SA Vegetables & Fruit – September/Oktober-uitgawe, Besoek hul webtuiste by https://www.mediacomcc.co.za/magazines

Van Oktober 2017 af word Suid-Afrika in die Uitvoerende Raad van die Produce Marketing Association (PMA) deur Tommie van Zyl verteenwoordig. Tydens 2017 se PMA Fresh Connections Konferensie en Handelskou in Kaapstad, het John Oxford, president van PMA, bevestig dat Van Zyl, hoofuitvoerende beampte van ZZ2, as vise-president van die organisasie gaan dien. Van Zyl was sedert 2013 voorsitter van die PMA SA, waar hy nou deur Brian Coppin, bestuurshoof van Food Lover’s Market, opgevolg word.

SA G&V: Baie geluk met jou aanwysing as vise-president van PMA. Wat het Suid-Afrika om internasionaal tot die bemarking van groente en vrugte by te dra?

TvZ: Die belangrikste wat SA het om aan te bied, as jy ons met lande soos Peru vergelyk, is ondernemerskap. Ons het baie ondernemers en bedrywe in ons land. Ons het die basiese vaardigheid en kennis en ons het die konstitusionele raamwerke en die belangrikste, ons ligging. As jy kyk na die Suider-Afrikaanse waardeproposisie in terme van waar ons geografies in die wêreldprentjie is en na ons markte wat reeds in Europa en in die VSA gevestig is, ding ons op gelyke voet mee met ander lande wat daarheen uitvoer. Die plek waar min egter met ons kan meeding, is die Ooste, beginnende by die Midde-Ooste tot by Suidoos-Asië en die Verre-Ooste. Dit is ook die toekomsmarkgeleentheid. As jy kyk na hoe bevolkingsgroei oor tyd plaasvind, laat dit Suid-Afrika met ‘n baie spesiale geleentheid en ons moet daardie geleentheid aangryp en dit is nou die tyd om dit te doen.

SA G&V: Hoe sien jy die grootste bydrae wat Suid-Afrika deur jou rol kan maak?

TvZ: My rol is om deur PMA se landsraad by te dra tot die internasionalisering van PMA se sakefokus. Dit was voorheen ‘n Amerikaans gesentreerde organisasie, maar in die afgelope tien jaar is gepoog om PMA ‘n internasionale handelsmerk te maak. PMA se internasionale raad word deur die lede se landsrade ondersteun. Hoewel die Amerikaners ‘n besondere bydrae gelewer het, deur ander groot handelsmerke soos Microsoft en Apple, besef hulle ook dat die rol van groente en vrugte as kommoditeite as ‘n internasionale handelsmerk aansien moet geniet. Daar is nie ‘n ander organisasie as PMA om dit te doen nie. Pleks dat ons nou hier in Suid-Afrika aanhou om verwoed teen mekaar in die plaaslike mark mee te ding, is PMA ‘n platform waar ons moet kyk wat ons sterk punte as ‘n lidland is in terme van klimaat, kennis, bestuur en mededingende voordele; en hoe ons by die internasionale markte kan inskakel en inpas.

SA G&V: Doen ons dit nie reeds nie?

TvZ: Daar is sekere bedrywe wat reeds goed gevestig is, soos appels en pere, sitrus en druiwe, maar is baie potensiële bedrywe hier wat nie momentum het nie. Niemand anders gaan daardie momentum skep as onsself nie. Ons rol is gevolglik om die PMA se geleentheid te gebruik om dit te help ontwikkel aan die internasionalisering van nuwe bedrywe en om seker te maak dat bestaande bedrywe nog sterker geïntegreer kan word. Dis wat ek sien ons gaan doen. Dis ‘n fantastiese voorreg om Suid-Afrika deel van die gemeenskap te maak. Ons kon net sowel nie deel hiervan gewees het nie. Ons het nou deur die werk van my voorganger en weens die inherente waarde wat Suid-Afrika bied, die voorreg om deel van die dinamiese beweging te wees. My doel is om doodseker te maak dat ons die maksimum waarde ontwikkel vir al ons belanghebbers. Ten slotte hoop ons dat dit baie groot waarde vir die hele bedryf in Suid-Afrika gaan inhou.

Onder vier oë met Tommie van Zyl, nuwe PMA vise-president
Onder vier oë met Tommie van Zyl, nuwe PMA vise-president
Onder vier oë met Tommie van Zyl, nuwe PMA vise-president

Copyright 2023