Familieboerdery hou aan groei

Artikel oorspronklik gepubliseer op Netwerk24.

Daar is geen ander manier om dit te stel nie: Boerdery as ’n familieonderneming staan absoluut sentraal in die Suid-Afrikaanse landbou-omgewing en is al eeue lank ’n integrale deel van die landbousektor.

Dit is die klein jakkalsies wat families uitmekaardryf.

Só het kenners by ’n sessie van die Nasie in Gesprek-reeks op die pas afgelope Nampo-oesdag op Bothaville in die Vrystaat aangevoer. Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital, het die sessie aangebied.

Dit gaan oor die familie as ’n eenheid, en daar is baie uitdagings en suksesse ter sprake, het Tommie van Zyl, uitvoerende hoof van die onderneming ZZ2, gesê.

Familieondernemings bestaan volgens hom al sedert Aristoteles se dae. “Daardie raamwerk is vandag nog relevant waar standhoudendheid en vertroue kardinaal belangrik is. Dit gaan oor die sisteem se doel,” het die sakeman aangevoer.

Danie Minnaar, voorsitter van Senwes Beperk, het in die gesprek die familie-aspek van ’n onderneming beklemtoon. “Die John Deeres en Monsanto’s van vandag was eens op ’n tyd familieondernemings gewees.”

Dit op sigself wys die waarde van familieondernemings, het hy benadruk.

Resep

Volgens Van Zyl is dit belangrik dat die “organisasie-geheue” behoue bly om die voortbestaan van ’n familieonderneming te verseker. “Jy moet ’n resep kan ontwikkel om ’n superorganisme te bou.”

Pieter Karsten jr., die adjunk- besturende direkteur van die Karsten Groep, verstaan sy rol binne hierdie superstruktuur.

“As jonger boer moet jy vrede daarmee maak dat jy ondergeskik is. Jy moet nog baie verder groei en vorder. Hier is ek net bevoorreg om deel te wees van die onderneming se groei,” het hy gesê.

Vermy konflik

Prof. Elmarie Venter, direkteur van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit se Eenheid vir Familieondernemings, het aangevoer dat ’n familieboerdery se sisteem reg moet wees vir die komende generasies.

As jonger boer moet jy vrede daarmee maak dat jy ondergeskik is. Jy moet nog baie verder groei en vorder.

“Vereistes moet vooraf ingestel word, nog voordat die volgende generasie daar is, om konflik uit te skakel.”

Volgens Minnaar is dit ook belangrik dat die volgende generasie vroegtydig opgelei moet word. “Jy kry vandag nog situasies waar die pa doodgaan en die kinders nie eens weet hoe sy testament lyk nie.”

Venter het bygevoeg dat daar vier ander belangrike elemente binne ’n familieonderneming is waaraan mense aandag moet skenk.

Dié elemente is die funksionele gebiede waar aanstellings gedoen word, bestuursmeganismes, kommunikasie en kulturele waardes.

“Familiestelsels is ’n derde element van besigheid. Besluite wat binne ’n familiestelsel geneem word, word in die besigheidstelsel ingestel. Dan kry jy nepotisme en konflik,” het Venter gewaarsku.

Volgens Karsten is dit belangrik dat familielede met mekaar kommunikeer.

“Boere sê baie dat hulle nie daarby uitkom nie, en dit is die klein jakkalsies wat families uitmekaardryf.”

* Besoek www.­nasieingesprek.­co.­za om na opnames van die volledige gesprekke te kyk.

Familieboerdery hou aan groei
Familieboerdery hou aan groei
Familieboerdery hou aan groei

Copyright 2023